Daydream is 'n virtuele realiteits-platform wat deur die Amerikaanse onderneming Google ontwikkel is. Dit maak deel uit van meer onlangse weergawes van die mobiele bedryfstelsel Android (Android Nougat 7.1 of nuwer). Versoenbare slimfone, wat aan die platform se harde- en sagteware-vereistes voldoen (hulle word as Daydream-ready bemark), kan saam met die Google Daydream View-koptoestel gebruik word. Die Daydream-platform is in Mei 2016 tydens die Google I/O-ontwikkelaarskonferensie aangekondig, terwyl die eerste virtuele realiteits-koptoestel op 10 November 2016 bekendgestel is. Daydream is Google se tweede skynwerklikheids-platform as opvolger van Google Cardboard wat oorspronklik as 'n lae-koste-stelsel geloods is om verbruikers se belangstelling in skynwerklikheidsprodukte te wek en derhalwe eerder in mobiele toepassings geïntegreer is as in die Android-bedryfstelsel. Daydream moenie verwar word met die gelyknamige sluimerskerm-toepassing nie wat saam met Android 4.2 in 2012 ingevoer is. Dit is intussen hernoem as screen saver.